"laaste herhinneringe aan magdaleen" deur GERT VLOK NEL [boodskap #38250] |
Do, 11 Januarie 2001 13:38 |
|
Oorspronklik gepos deur: @home.com
laaste herhinneringe aan magdaleen
Gert Vlok Nel
toe jy my gelos het
het jy nooit weer i dooie woord geskryf
nie. ek het.
die boland hurk in jou somerrok se gewig.
ek het gesê as ek krismis kom vir jou
kry i dennebol, wag geurig op die stasie
ek sal uitleun by die venster. malmesbury. clanwilliam.vredendal.
al die pad deur switserland.
(ek onthou ek het gehuil so, in die wind)
ek het jou in i droom gesien, het jy opgemerk
tydens rugby, tussen i miljoen mense.
in my bestaan was jy die Woord wat vlees geword het.
dis dalk i cliche het jy (later) gesê in wind,wind,wind.
jyt grond & sout & water in my hart losgemaak
een aand in melkbaai terwyl ek la mer
speel in jou hare met die see as tweedestem.
(geen swem verby die punt nie)
nou lê al die liegstories van die kollektiewe siel
& die vaadre naak. alles & God kan altyd weer gevind
word. maar jy is vir ewig taboe soos die see
(& die see loop leeg dieselfde uur as ek)
ek moet vir jou iets sê sê jy.
ekt jou noukeurig liefgehad
in i swaar jaar vol ligte seisoene.
ek het i foto van jou op stellenbosch, jys 19
voor die stadsaal, ek ruik jou nat hare terwyl
ek skryf. 7 jaar
daar is i triestige geheim die saterdag
wat gekom het met die dwingelandy van dinsdag, werk
verwerking, geld, vergelding. daai jaar
toe ek hokke moes begin bou
(om duiwe binne te hou)
ek sien jou orals
dis i duur, beleë cliche
(dit klink so fokken kak maar dit is so fokken waar)
het 'n obskure plattelandse poët gesê teen skemer.
toe jy weg is, het ek jou 3 x weer gesien
jyt my naam nie 1 x weer genoem nie. jy is my verby
in 'n wêreld van verworwe grense & verkende taiga.
ek wil vir jou iets sê sê jy in my hare. moenie asseblief.
jyt getrou met i man, van sanlam, ek weet
waar jy bly. dat jy
wasgoed baldadig laat wapper in jou vooryard.
ek het een nag verbygery, in totale nood. julle het formidabel
geslaap, die wasgoed het my aangerand.
konnekteer vannag met my in i droom, sjant my uit,
uit uit die gedig uit.
vanaand na i woeste winddag, i vreemde donderbui
het i telefoon
oorkant die grafstil straat, in die groot dormante skool
dringend gelui
en vanaand verlang ek onbeskaamd na jou,
na tyd. kom staan jy weer voor
my, ootmoedig, & alleen. jeanne darc.
ek het jou...
nie lief nie
sê jy.
|
|
|